Main Menu

Bobbie – Extract

Boeke

Een

 

Lank gelede was Natasha ’n pragtige jong meisie. Ek was hare van die dag dat ek weg is by my ma en haar werpsel. Ek onthou my ma nog vaagweg, haar lyf wat na melk ruik, haar warm neus wat sag aan my stamp, en haar bruin oë wat blink van liefde. Al wat ek van my boeties en sussies onthou, is ’n raserige deurmekaarspul van tande en naels en hare. Ek kan nie sê ek het omgegee om Natasha se enigste kind te word nie.

Natasha se oë was soos my ma s’n, maar met meer goue vlekke. Natasha was my speelmaat, sy was my nuwe ma, sy was my beste vriend. Haar hart het oorgeloop van liefde. Myne ook. Ons het in mekaar in gevloei.

Natasha was wyser as die meeste ouer mense om haar; hulle was so besig dat hulle heeltemal vergeet het hoe ( Aldre there’s a context change from just communicating to hoe to communicate with non humans… quite a difference)om te kommunikeer. Sy was op vyftien al hardwerkend, en toe sy ná skool die grootmenswêreld betree, was sy ’n toegewyde student.

Ek was nie meer ’n klein hondjie nie. Ek het nie omgegee om soveel langer onder haar lessenaar te moet lê terwyl sy studeer nie. Sy het my nog elke dag geborsel. Ons het nog elke dag gaan stap,  eintlik het ons  langer en verder gestap soos die jare verby gegaan het.

Dit was iets wat konflik in die gesin veroorsaak het. Natasha se ma was bekommerd dat sy “alleen” gaan stap. Natasha het gesê dit gee haar tyd om te dink. Sy was baie gesteld op haar tyd alleen saam met my. Ek moet erken, ek het diep beledig gevoel toe daardie argumente begin.

Ek sou enigiets gedoen het om haar te beskerm. En ek kon, ek het dit in my gehad. Dis iets wat jy diep in jouself besef: die oerhond, die wolf  in my ( consistency used in my everywhere else; I think I prefer daarbinne though), weet steeds wat om te doen. Ek was so lief vir haar dat ek haar met my lewe sou verdedig het. As dit moes, sou ek doodgemaak het vir haar. Maar ek was nie daar toe sy my nodig gehad het nie. As ek net by haar was . . . Dan sou alles nou anders gewees het.

Een koue oggend is Natasha oppad universiteit toe. Ek het saam na haar blou karretjie toe uitgeloop. Daar het stoom by haar mond uitgekom. Sy het handskoene gedra, ’n hoed en ’n serp. Slierte van haar sandkleurige hare het teen haar wange gewaai. Ek het aan die bestuurder se kant van die kar gewag, soos ek elke dag gemaak het.

Die kar wou nie aanskakel nie. Sy het die deur oopgemaak, haar sleutels uit die klein gleufie getrek en dit weer ingedruk. Toe het sy uitgeklim en die kar se voorkant oopgemaak en binne-in gekyk.

Haar pa het uitgekom. Hy was altyd haastig, sy aandag was gewoonlik ver van waar sy liggaam hom bevind het. Hy het vinnig by die oprit uitgery en was al amper by die hek toe hy sien Natasha staan met haar arms om haar lyf en bibber langs haar kar.

“Ek’s laat,” het  pa gesê. Toe het hy die dik drade, wat hy in sy kar hou en jump leads noem, gegryp. Hy het sy battery daarmee aan hare gekoppel. “Klim in, Tash, en ry as die kar vat.”

“En wat as   dit weer gaan staan?” Dis wat ek gevra het. Maar hy het my natuurlik nie geantwoord nie.

Trouens, hy het gesê: “Uit die pad uit, Bobbie.”

Uit die pad uit?

Toe sê haar pa: “Bel my as jou kar nie ná klas wil vat nie. Ek sal jou kom haal.”

Op die ou end moes hy haar gaan haal, ja, maar nie op ’n manier wat hy hom ooit sou kon voorstel nie.

Sy het nie huis toe gekom vir ons stappie voor sononder nie. Ek het by die voordeur lê en wag. Ek het geweet iets is verkeerd. Sy het ook nie vir aandete huis toe gekom nie. Ek het op en af in die portaal geloop, op en af; ek het geweet iets vreesliks is verkeerd.Haar ma het al haar vriende gebel, elke nommer wat sy kon opspoor. Ná aandete, die kos wat niemand kon eet nie, het haar pa en haar  broer haar gaan soek. Ek was by haar ma toe haar pa bel. “Hy staan by haar kar en die voorruit is uitgeslaan, Bobbie.” Haar ma het begin bewe: “Haar foon lê onder haar sitplek . . .”

Die dae is kort in die winter, so dit was al amper donker ná Natasha se laaste klas. Haar kar wou nie vat nie. Dit was die eerste probleem. Maar daar was twee andere probleme ook: sy moes buite die universiteit se veilige parkeerterrein stilhou, onder die brug oor die snelweg – ek is nie seker wat dit is nie, maar ek weet dis vir karre – want sy was laat, en verder was haar lugtyd op.

Natasha se pa en broer het haar gekry, ’n paar meter van die kar wat nie wou vat nie. Ek het nie veel meer om te vertel nie, want die  oerhond, die wolf in my, neem oor: hy gooi sy kop terug en hy huil. Hy huil die verlate witheid in, hy huil die sneeustorm stil, hy huil bloed.

Ek sou haar met my lewe verdedig het. Ek was so lief vir haar. As ek by haar was, sou alles nou anders gewees het.

Haar ma was bekommerd oor so ’n jong meisie wat alleen saam met my gaan stap, maar sy was nie bekommerd oor so ’n jong meisie alleen tussen ander mense nie. Binne dae is die skuldiges gevang, dié wat haar lewe geneem het, suiwer uit verveeldheid, net omdat hulle kon. Ek glo mense is in staat tot erger boosheid as enigiets wat my soort hulle ooit kan voorstel.

Haar familie het hulle besittings opgepak, hulle huis verkoop en oor die groot water gevlug. Ek blameer hulle nie. Hulle kon niks anders doen as om weg te hardloop nie. In my droomtyd doen ek dit steeds: die wolf in my hardloop oor die verlate witheid; hy hardloop en hy hardloop en hy hardloop.

 

Twee 

Daar blaf ’n hond buite. Dit klink soos Dash. Ek maak die venster toe. Ek hoor hom steeds. Ek sit musiek aan. Ek draai dit harder. Ek kan die hond nie meer hoor nie. Maar die musiek is so hard dat dit my net herinner aan hoe min Dash van harde musiek gehou het.

Hy’t altyd na my bed toe gesluip, sy ore plat, dan druk hy sy neus onder die bed in en hou sy pote by sy ore. So ek sit die musiek af. Die hond blaf steeds. Alle honde klink soos Dash. Ek begin huil.

Alle honde, selfs dié met net die kleinste ooreenkoms, herinner my aan Dash. En dis asof ek oral net wit Alsatians sien. Toe Dash nog gelewe het, altans in sy lyf, was hy besonders – so besonders dat ek nog net een keer ’n hond soos hy gesien het.

Ek het die wit Alsatian met lang hale oor die park sien verbyflits. Ons was aan die bokant van die heuwel en het pas uit die kar geklim, maar ek was so opgewonde dat ek ondertoe gehardloop het om hierdie hond van nader te bekyk. Miskien was hy van dieselfde werpsel as Dash, het ek gedink, dalk is hulle familie.

Die eienaar, ’n donkerkopman, jongerig, maar ouer as my broer, het nie belanggestel in wat ek te sê gehad het nie. Hy het gedink ek wou hom optel of iets, want hoe meer ek praat, hoe meer kyk hy my op en af en grinnik, en toe vra hy boonop of ek na sy huis toe wil kom. Ek kon hom nie laat verstaan dat ek net in sy hond belangstel nie. Gross!

Ek was dankbaar toe my pa bo teen die heuwel verskyn en roep: “Jessica! Vang!” Hy het Dash se twee balle en sy gunsteling-speelgoed in sy hande gehad. Toe die rooi speelding deur die lug vlieg, verskyn Dash agter my pa en ’n sekonde later lê hy oop teen die heuwel af. Die ander wit hond was ook ’n reun, en ek was seker die bloed gaan loop.

Ek dink my voete het skaars grond gevat soos ek na Dash toe hol, wetend jy moenie jou rug op ’n vreemde hond draai nie, want dan maak jy die jagter in hom wakker. Maar Dash was ’n alfa-reun en ons het al genoeg veeartsrekeninge gekry oor Maltese poedels wat hy geskraap het, so ek was paniekerig.

Maar Dash storm verby my en pyl reguit op die wit Alsatian af. En die volgende oomblik is dit net ’n gesnuffel en ’n geswaai van sterte – vreeslik ordentlik met mekaar. Die rooi speelding het tussen hulle op die gras gelê. “Asseblief!” het ek gesmeek terwyl ek versigtig buk om die ding op te tel. “Moet net nie balle gooi nie.” Die ander hond se eienaar het net oor sy stoppelbaard gevryf en na my met ’n regtig grillerige glimlag gekyk.

En dit was die enigste keer in my lewe dat ek ’n ander hond soos Dash gesien het.

www.amazon.com

Website created by Blog Meistress.